Ek lees nie te lank terug 'n rubriek wat Valiant Swart geskryf het. Ja, die man kan nie net rock nie, maar is 'n baie talentvolle skrywer ook. Dit het my laat dink - Jy kry mos mense wat jou vertel dat hulle nie hulle lewe sonder hulle kinders kan voorstel nie. Ek hoor dit elke dag in die Pikanini Klasse en sien die posts opFacebook. "My kinders is my alles, Ek lewe vir hulle" 'n ander Ma noem dat hulle die rede is hoekom sy soggens opstaan. "Sonder hulle is ek niks"
En ek dink by myself: "Is daar iets fout met my?" Soos Valiant se: "Watter saai, verbeeldinglose ou plankton-bestaan moes so 'n mens nie voor die intrede van die magiese verlossertjies gelei het nie?" Waar was die tintelende avonture voor ouerskap? Geen blinkoogdrome, geen vrygeestige vooruitsigte, geen gebonde strewes nie? Geen berge om te klim nie. Is ideale dan eers op koers geplaas met die opdaag van jou Nasaat? Was ouerskap dan die laaste lotsbepalende ruiltransaksie met jou geluksengel? Ek dink jy het 'n raw deal gekry. Jou arme, arme kinders - se Valiant.
Hulle het nie 'n keuse gehad nie. Hulle het bloot eendag niksvermoedend uit 'n louwarm, knusse akwarium hier opgedaag om - wat? - Skielik sin aan jou vervelige lewe te kom gee? Pressure! Geen wonder sommige van ons kinders het so baie issues nie. Berei jouself solank voor vir 'n wrede ontnugtering as jy jou pens en pootjies oorgee aan jou nuwe rol as super-ouer. Valiant se: "So perfek soos wat jy jou voorstel jou kinders gaan wees as jy jou ganse bestaan aan hul welgeluksaligheid wy, so hard gaan jy huil as jy besef jy sit opgeskeep met bedorwe, ondankbare, onbeskofte, rigtinglose sponse wat lank na hulle die skool verlaat het, steeds op jou teer."
Ons sal een aand staan voor 'n lee skottelgoedwasser wat jy nou net uitgepak het na jou tiener en haar ongemanierde, agteraf maats dit vir jou gelos het. Vanuit die familie kamer sal jy hoor hoe 'n borrelende TV aanbiedertjie vertel vand die "unbelievable sunsets over the Greek Isles" waar hulle "werk" aan 'n swemdrag issue vir Sports Illustrated. Jy sal wonder wat van jou eie eiland drome geword het (en ook jou figuur) en sonder aarseling kom die liedjie by jou op oor Lucy Jordan wat op 37 besef sy sal nooit in 'n sportmotor in Parys rondry met die wind deur haar hare nie. En skielik weet jy - Dis alles net jou eie skuld!
Vir kort vlietende oomblikke wanneer ons nasaat by Ouma en Oupa kuier, gaan ek en haar Pa waar ons wil, wanneer ons wil. Geen babysitters om te reel nie, geen skoolkwartale om mee rekening te hou nie, geen nagging of streke nie. Ons kan op die ingewing van die oomblik sommer gou gaan Sushi eet of laat by (kinderlose) pelle kuier. Helaas, vlietend sal dit bly, want daar is sy nou - Die Erfgenaampie! Die Opeiser van Aandag, die Beproewer van Geduld, die Dief van Harte.
Ek is vrek lief vir ons kind, my voor-kind versugtinge ten spyt. Al versteur sy deurentyd my universele gang en my aardse patroon, sal ek vir haar deur die spreekwoordelike vuur loop. Oor die vreugdes was sy ons verskaf kan ek blog en blog en blog, maar om saam met Valiant te stem - ek is huiwerig om die grond te aanbid waarop sy loop - netnou kry ek net bloederige kniee daarvan.
Blessings! vir almal (en ek tel ons kinders twee keer)
Karen van Zyl
(met erkenning aan Valiant Swart)
