Pikanini Baby Academy
Our Blog

My kind is my lewe!?

Monday, 13 September 2010 19:36 by Admin

Ek lees nie te lank terug 'n rubriek wat Valiant Swart geskryf het.  Ja, die man kan nie net rock nie, maar is 'n baie talentvolle skrywer ook. Dit het my laat dink - Jy kry mos mense wat jou vertel dat hulle nie hulle lewe sonder hulle kinders kan voorstel nie.  Ek hoor dit elke dag in die Pikanini Klasse en sien die posts opFacebook.  "My kinders is my alles, Ek lewe vir hulle" 'n ander Ma noem dat hulle die rede is hoekom sy soggens opstaan.  "Sonder hulle is ek niks"

En ek dink by myself:  "Is daar iets fout met my?" Soos Valiant se:  "Watter saai, verbeeldinglose ou plankton-bestaan moes so 'n mens nie voor die intrede van die magiese verlossertjies gelei het nie?" Waar was die tintelende avonture voor ouerskap?  Geen blinkoogdrome, geen vrygeestige vooruitsigte, geen gebonde strewes nie? Geen berge om te klim nie.  Is ideale dan eers op koers geplaas met die opdaag van jou Nasaat?  Was ouerskap dan die laaste lotsbepalende ruiltransaksie met jou geluksengel?  Ek dink jy het 'n raw deal gekry.  Jou arme, arme kinders - se Valiant.

Hulle het nie 'n keuse gehad nie.  Hulle het bloot eendag niksvermoedend uit 'n louwarm, knusse akwarium hier opgedaag om  - wat? - Skielik sin aan jou vervelige lewe te kom gee?  Pressure! Geen wonder sommige van ons kinders het so baie issues nie.  Berei jouself solank voor vir 'n wrede ontnugtering as jy jou pens en pootjies oorgee aan jou nuwe rol as super-ouer.  Valiant se:  "So perfek soos wat jy jou voorstel jou kinders gaan wees as jy jou ganse bestaan aan hul welgeluksaligheid wy, so hard gaan jy huil as jy besef jy sit opgeskeep met bedorwe, ondankbare, onbeskofte, rigtinglose sponse wat lank na hulle die skool verlaat het, steeds op jou teer."

Ons sal een aand staan voor 'n lee skottelgoedwasser wat jy nou net uitgepak het na jou tiener en haar ongemanierde, agteraf maats dit vir jou gelos het.  Vanuit die familie kamer sal jy hoor hoe 'n borrelende TV aanbiedertjie vertel vand die "unbelievable sunsets over the Greek Isles" waar hulle "werk" aan 'n swemdrag issue vir Sports Illustrated.  Jy sal wonder wat van jou eie eiland drome geword het (en ook jou figuur) en sonder aarseling kom die liedjie by jou op oor Lucy Jordan wat op 37 besef sy sal nooit in 'n sportmotor  in Parys rondry met die wind deur haar hare nie.  En skielik weet jy - Dis alles net jou eie skuld!

Vir kort vlietende oomblikke wanneer ons nasaat by Ouma en Oupa kuier, gaan ek en haar Pa waar ons wil, wanneer ons wil.  Geen babysitters om te reel nie, geen skoolkwartale om mee rekening te hou nie, geen nagging of streke nie.  Ons kan op die ingewing van die oomblik sommer gou gaan Sushi eet of laat by (kinderlose) pelle kuier.  Helaas, vlietend sal dit bly, want daar is sy nou - Die Erfgenaampie!  Die Opeiser van Aandag, die Beproewer van Geduld, die Dief van Harte. 

Ek is vrek lief vir ons kind, my voor-kind versugtinge ten spyt.  Al versteur sy deurentyd my universele gang en my aardse patroon, sal ek vir haar deur die spreekwoordelike vuur loop.  Oor die vreugdes was sy ons verskaf kan ek blog en blog en blog, maar om saam met Valiant te stem - ek is huiwerig om die grond te aanbid waarop sy loop - netnou kry ek net bloederige kniee daarvan.

Blessings! vir almal (en ek tel ons kinders twee keer)

Karen van Zyl

(met erkenning aan Valiant Swart)

 

 

 

Is dit 'n voel? Is dit 'n vliegtuig? Nee, dit is n Superkind!

Sunday, 7 February 2010 00:12 by Admin
"My kind is super-intelligent" se die mamma vir my terwyl ons wag vir die ander mammas en kinders, sodat ons met 'n Pikanini klas kan begin. "Sy is natuurlik 100 % tweetalig ook."

Ek kyk na die kind wat met 'n effense oop mondjie na my loer. Sy het nog nie 'n woord gepraat vandat hulle gearriveer het nie. Die naam van 'n bekende kinderboetiek is in helder kleure op haar hempie en bypassende valletjiesbroek geborduur.

"Waarom is Afrikaanse boeke so maklik?" vra die ma en skuif twee boeke met wonderlike illustrasies eenkant. "sy is werklik mal oor boeke" sug sy weer. "Maar sy raak so gou verveeld met enigiets wat onder haar peil is, as jy weet wat ek bedoel."

Ek knik. Ek weet wat sy bedoel. Haar skatlam is op drie reeds netjies in 'n boksie geplaas met 'n etiket waarmee die mamma duidelik met oorgawe worstel. Daar is baie etikette daarbuite. Hoe gouer jy jou kind in 'n sekere groepering kan gooi, hoe gouer kan jy begin wroeg en worstel oor die nadele van 'n slim/mooi/sportiewe kind.

Die "hoogs intelligente" etiket is 'n gewilde een, veral onder meer gegoede ouers (wie se intelligensie kan nie gekoop word nie?) En dit is tog so nuwe millennium om by teepartytjies te kla dat begaafde kinders net soveel moeite verg soos die met leerproblem.

'n Ander etiket wat gesog is, is die titel van "skoonheidskoningin" - gerieflik versteek in vele baba- of kinderkompetisies waarvoor ywerige ma's hul pragwerke kan inskryf. Die bonus is dat jy nie hoef te verklaar jou kind is mooi nie, jy skryf mos sommer "vir die lekker" in en ander mense doen die nare werk om na 'n groep gesonde dogtertjies te kyk en te besluit wie is die heel, heel mooiste.

Dan is "sportief" ook 'n gewilde klassifikasie - 'n etiket wat pa's ook betrek. Petroltenke word leeg gery, sporttoerusting aangekoop en naweke word deurgebring op paviljoene vir hierdie omvangryke etiket. Prestasies is onmiddelik meetbaar en sukses word soet verpersoonlik.

Wat my tog laat wonder. Wat gebeur nou met die "super-intelligente" driejarige as dit op ses duidelik word sy is eintlik verveeld omdat sy 'n oogprobleem het wat maak dat haar visuele ontwikkeling 'n paar jaar agtergeraak het? Of as die "skoonheidskoningin" se gelaatstrekke met tyd aan haar 'n nukkerige, onvergenoegde, uitdrukking gee waarvan beoordelaars nie hou nie? Of wanneer "Sportief" se werklike groeiperiode eers in matriek aanbreek en hy jaar na jaar korter, kleiner en swakker vertoon? Wat word dan van hierdie kinders? Wat word van hulle persoonlikheid wat met tyd onlosmaaklike met die etiket vervelg geraak het?

Die ergste is dat die meeste ouers dan nie sonder etikette kan voortgaan nie. Nee, die kenners word ingeroep om 'n nuwe etiket te ontwikkel: aandagafleibaarheid, disleksies, lae spiertonus, allergies, hiperaktief. Probleme wat dalk vroeer raakgesien kon word as die etiket nie daar was nie. Probleme wat nou etikette word.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Daar is niks mee fout om jou kind se talente of probleme te identifiseer nie. Baie ouers verkies egter om self die etiket om die nek te hang en is dan vinnig om kenners in te rope as 'n probleem opduik.

Ek hoef nie die ma te vra watter intelligensie-kenner haar kind as super-intelligent geklassifiseer het nie. Ek weet sy doen dit sommer self. Ten spyte daarvan dat sy geen ervaring in die veld het nie, geen ander kinders het om hierdie een se ontwikkeling mee te vergelyk nie, en geen kwalifikasies het om op te steun nie. Watter kriteria gebruik sy om te bepaal of 'n boek te maklik of te moeilik is? Hoe weet sy haar kind is verveeld eerder as aandagafleibaar? Wat is die verskil tussen intelligent en super-intelligent?

Die feit is dat elke mamma moet glo haar kind is die pragtigste oulikste, slimste en talentvolste. Dit is nou maar net jou plig as 'n mamma - om jou kind ruimte te gee om onbevange sy passies in die lewe te ontdek, altyd verseker van jou liefde en aanvaarding.

Maar jy bly jou kind se ma - nie 'n kenner nie. Hoeveel kinders word die wereld ingestuur met illusies oor hul eie vermoens? 'n Mens kan se dat indien meer mammas hul plig doen, daar minder onuithoudbaar vernederende Idols-momente sal wees.

Ek wil tog nooit so arrogant wees as om te dink dat ek die omvang van die potensiaal by 'n kind kan peil nie, selfs al is dit deel van wat ek doen elke dag. Hoe minder etikette om jou kind se nek hang, hoe meer ruimte het hy om homself te leer ken.

Ek sal dit nooit doen nie - Vandag Blog ek bietjie in Afrikaans....

Wednesday, 3 February 2010 06:15 by Admin

(Met apologie aan Theo en Cindy - al het julle nog nie julle eie nie - is julle die coolste Peetouers)

Niks bring jou so gou aarde toe as ouerskap nie. Standaarde verlaag en voornemens spoel saam met die wasmasjienwater by die drein af......

Mens is darem maar slim voordat jy self 'n ouer is! Ek lees nou die dag 'n sticker op 'n kar wat se: "Neem 'n tiener in diens terwyl hulle nog alles weet" Wel, mense wat nie kinders het nie, weet ook alles. En net soos tieners gou-gou in die werkplek gaan agterkom die MENSA-organisasie gaan hulle nie sommer as lede aanvaar nie, net so kan nie-ouers maar daardie Meestersgraad in "Ek-weet-alles-en-meer (cum laude) agter hulle naampies uitvee as hulle 'n baba in die hand gestop word.

Jy onthou hoe jy ouers bekyk het as hulle kinders met snotneusies en vuil klere in die winkels huil vir 'n sweetie/pop/blik hondekos? Hoe jy gedink het jy wil daai ouers met daai klein aaklige-stout "terroris" 'n ding of twee vertel?

Hoe jy gedink het jy kan nie glo dat ouers hulleself so kan laat gaan as daar 'n rolletjie te veel om die middel was/'n rok 'n blertsie pap op gehad het/jy oor een speelding in hul sitkamer moes trap/hulle nie meer die nuutste modes gevolg het nie?

Wel ja...... Hier is 'n paar van my eie mites wat moes swig...

1. Ek sal nooit aan my kind se dummy suig om dit skoon te maak nie: Ja, ja. Die eerste twee weke van jou kind se lewe tel jy getrou die dummy op wanneer dit in die middel van die nag met 'n boog gespoeg word, was dit af, sit dit in Milton en vat 'n nuwe, ontsmette een. Teen die derde week suig jy, uitgeput van die min slaap, met liefde daai dummy skoon (jy borsvoed in elk geval, so watse nuwe kieme kan jou kind nou by jou kry?)

2. Ek sal nooit vir Lisa hand-me-down klere aantrek nie. Ek meen daardie klere is nog splinternuut (behalwe vir 'n paar melkvlekkies hier en daar) en hoekom nie liewer die geld gebruik vir iets anders nie ('n luukse facial of massage?).

3. My kind sal nooit met speelgoedgewere speel nie. Ek weet dis nie polities korrek nie, maar ek is die eerste ouer wat uit die kas sal kom en se hulle sal wapens van mass destruction in my huis kry. Ek het nog net een seuntjie teegekom wie se ouers nie voor eise vir 'n pistooltjie of water bazoeka geswig het nie en daai kind het toe hy hier kom kuier het, skelm twee water pistole en 'n Peter Pan swaard in sy tas gepak voor hy huis toe is. En nee, wapens het haar nie aggressief gemaak nie - sy is 'n liefevolle, saggeaarde kind (gene van die ma gekry) en as sy soms 'n bietjie handuit ruk, skryf ek dit toe aan gene wat sy iewers andes gekry het....

4. Ons kind moet by ons lewe aanpas, nie ons by hare nie. HA HA! Ja, baba verstaan presies dat Mamma besig is met navorsing vir haar PhD en sal net wakker word wanneer sy nie werk nie. Peuter gaan nie 'n woord rep of 'n voetjie roer terwyl julle uiteet nie. Jou huisie gaan perfek netjies bly (my kind gaan al op 8 maande begin opruim en skoonmaak). Vandag tel netjies as die beddens opgemaak is en ek plek kan kry vir 'n bottel water langs my bed.

5. My kind gaan 'n modelkind wees. Ja, sy kan 'n model wees - vir OMO, Defy-wasmasjiene, anti-koeksjampoe en iemand wat 'n TV-program maak oor hoe om 'n skreeuende kleuter uit 'n supermark te kry sonder om die kind iets aan te doen (soos om nie haar strottehoof te ontwrig nie)

6. Ek sal myself "in stand hou". Deesdae tel dit as ek myself nege-uur saans nog kan regophou en die volgende dag kan opstaan nadat sy die hele nag in bogies oor my opgebring het en niemand dit kan ruik nie (Probeer maar, vyf baddens is nie genoeg nie!)

O ja! daai rol oor my jeans is net 'n los velletjie....